Japan: 9 sterf in tonnel
2012-12-03 08:06
Tokio – Reddingswerkers het nog drie lyke gevind in 'n tonnel in Japan wat ineengestort het, wat die dodetal weens dié ramp op nege te staan bring.
Minstens drie voertuie is Sondag platgedruk toe dakpanele van beton in die tonnel van bykans vyf kilometer meegegee het. Die Sasago-tonnel, op die Chuo-snelweg, loop deur koppies naby Berg Fuji, sowat 80 km wes van Tokio.
Ooggetuies het vertel hoe een van die voertuie in vlamme uitgebars het. Die verkoolde oorskot van vyf passasiers is in die voertuig gevind.
Reddingswerkers het ook die lyk gevind van ene Tatsuya Nakagawa, 50, 'n vragmotorbestuurder, wat volgens die uitsaaier NHK sy maatskappy gebel het om hulp te vra.
Die lyke van 'n bejaarde man en twee bejaarde vroue is ook later uit 'n platgedrukte voertuig gehaal.
"Dis moontlik dat die dele wat die dakpanele en die pilare verbind, of dalk die pilare self, gedisintegreer het weens aardbewings en verbygaande voertuie," het Chikaosa Tanimoto, 'n ingenieur verbonde aan Osaka Universiteit, gesê.
Aardbewings is algemeen in Japan, maar geen aardbewing het in die gebied plaasgevind kort voor die ramp nie.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA