Italië se ekonomie dalk op selfde pad as Griekeland
2011-07-12 08:58
Den Haag - Vrees het Maandag regoor Europa toegeslaan dat Italië die volgende Europese domino is wat ná Griekeland kan omval. Dit het bekend geword dat dié land se staatskuld ’n verbysterende €1 890 miljard is, waardeur hy ook miljarde moet leen om sy pligte na te kom.
Maandagmiddag het die president van die Europese Unie (EU), Herman van Rompuy van België, ’n aantal finansiële leiers in Brussel vir middagete ontvang om die krisis te bespreek. Hulle is Jean-Claude Trichet, president van die Europese Sentrale Bank; Jean-Claude Juncker, Luxemburgse premier en voorsitter van die eurogroep in die EU; Olli Rehn, kommissaris van finansies in die Europese Kommissie, en José Manuel Barroso, president van die Europese Kommissie.
’n Woordvoerder van Van Rompuy se kantoor het ontken dat dit om ’n “krisisberaad” gaan, maar dit is presies hoe die Europese media dit vertolk het.
Syfers wat Maandag bekend geword het, dui daarop dat Italië se staatskuld 119% van sy bruto binnelandse produk bedra. In die EU is slegs dié van Griekeland (143%) groter
Verlede Vrydag het die Italiaanse aandelebeurs begin verkrummel, en die proses het gister voortgeduur. Sondag het die Duitse bondskanselier, dr. Angela Merkel, haar Italiaanse eweknie, Silvio Berlusconi, gebel om oor die skuldkrisis te beraadslaag.
Sy het Maandag aan Duitse media vertel sy het Berlusconi aangesê om die skuldprobleem kragtig aan te pak. Dis ’n sein wat Italië self aan die wêreld moet stuur, het sy gesê.
Dit word egter steeds moeiliker, want in reaksie op die nuus oor die krisis het die rente vir die staatskuld tot byna 5,5% gestyg. As dit so voortgaan, sal Italië nie meer in staat wees om sy skuld af te betaal nie.
Maandagmiddag en gisteraand het die ministers van finansies van die 17 eurolande vir hul gereelde maandelikse vergadering in Brussel byeengekom. Vandag kom die ministers van finansies van die hele EU bymekaar.
- Die Burger