Italianer skiet straatsmouse in rasse-aanval
2011-12-13 22:07
Florence – 'n Man het twee straatsmouse in Florence, Italië, doodgeskiet en drie ander gewond in 'n klaarblyklike rasse-aanval voordat hy selfmoord gepleeg het.
Gianluca Casseri (50), wat deur Italiaanse amptenare as 'n ekstremis beskryf word, het sy motor naby die Dalmazia-plein in Florence parkeer, waarna hy met 'n pistool begin skiet het, het ooggetuies gesê.
Twee Senegalese mans is dood en een is ernstig beseer.
Na dié skietery het hy teruggeklim in sy motor en weggery, waarna hy twee ure later in die sentrale San Lorenzo-mark begin skiet het. Twee straatverkopers is in dié voorval gewond.
Daarna het Casseri na 'n parkeerarea gevlug en homself in die keel geskiet, het polisie gesê.
Casseri was die redakteur en uitgewer van 'n tydskrif vir bewonderaars van JRR Tolkien, die skrywer van die Lord of the Rings-trilogie.
Volg Nuus24 op Twitter.
- AP