Italiaanse paartjie dalk ontvoer
2009-12-19 19:54
Mauritanië – ‘n Italiaanse paartjie wat in die Suidooste van Mauritanië gereis het, is glo deur gewapende mans ontvoer, nadat hul leë minibus vol koeëlgate gevind was.
Die paartjie, ‘n Italiaanse man in sy sestigs en sy vrou in haar laat dertigs, is sedert Vrydag vermis, het ‘n sekuriteitsbeampte van Mauritanië gesê.
“Dit is hoogs waarskynlik dat hulle deur ‘n groep gewapende mans ontvoer was,” het hy gesê.
Mauritaanse magte in die omgewing is op die uitkyk, het die sekuriteitsbeampte gesê.
Die paartjie se verdwyning kom slegs drie weke nadat drie Spanjaarde in die woestyn-streek ontvoer was.
- Sapa-AFP