'Israel wil Iran aanval'
2011-11-10 07:06
Den Haag – Gissings dat Israel, moontlik met Amerikaanse en Britse hulp, gereed staan om ’n reeks lugaanvalle op Iranse kerninstallasies uit te voer, het Woensdag deur internasionale media weerklink.
Die gissings is aangehelp deur ’n verslag van die Internasionale Atoomenergie-agentskap (IAEA) wat daarop neerkom dat Iran oor sy kernprogram gelieg het.
Die land hou vol hy ontwikkel kernenergie net vir vreedsame doeleindes, maar die IAEA se bevinding is dat Iran aktiwiteite uitvoer “wat relevant is vir die ontwikkeling van ’n kernploftoestel”.
In ’n verslag wat die IAEA eergister in Wene, Oostenryk, uitgereik het, word ook gesê dat Iran missiele ontwikkel wat kernplofkoppe ’n paar honderd kilometer ver kan laat ontplof. Die verslag bevat gedetailleerde inligting van die ontwikkeling van allerlei onderdele en rekenaarprogramme wat net vir kernbomme toepaslik is.
Die verslag is gegrond op eie navorsing, inligting van die organisasie se 35 lidstate, asook flenters inligting van Iran self.
Pres. Mahmoed Ahmadinedjad van Iran het gesê die verslag is op “ongeldige” inligting gegrond. Iran sal “geen haarbreedte” van sy kernprogram afwyk nie.
’n Iranse generaal het met “verskriklike wraak” gedreig as die land aangeval word.
In Israel het Ehud Barak, minister van verdediging, gesê daar is geen planne vir so ’n aanval nie, maar “alle opsies is op die tafel”.
Hy het in ’n onderhoud met The Jerusalem Post bygevoeg hy is nie optimisties dat die Verenigde Nasies op sanksies teen Iran sal besluit nie.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Die Burger