Israel regverdig optrede in Gasa-oorlog
2009-07-31 20:08
Tel Aviv – Die regering van Israel hou vol die gebruik van wit fosfor tydens die Gasa-oorlog vroeër die jaar was wettig.
Al Jazeera berig Israel het in ‘n verslag gesê die land se oorlog in die Gasastrook was “nodig en proporsioneel”.
Die land het in Januarie met ‘n ystervuis gereageer op mortieraanvalle vanuit die Gasastrook deur militante Hamas-vegters.
Meer as 1 400 mense, waarvan 926 burgerlikes was, is dood tydens 22 dae se gevegte tussen Israel se weermag en Hamas.
Israel se militêre optrede in die Gasastrook is wêreldwyd gekritiseer as oordadig en disproporsioneel.
Die land word beskuldig daarvan dat hy Gasa aangeval het met wapens wat brandende wit fosfor bevat het.
Wit fosfor brand teen ‘n ontsettende hoë temperatuur. Volgens internasionale reg is dit onwettig om dié wapens tydens ‘n oorlog te gebruik.
Die Verenigde Nasies sal in Augustus ‘n verslag bekend maak oor bewerings dat Israel internasionale wette oortree het en oorlogsmisdade gepleeg het tydens die Gasa-oorlog.