Israel beweer oorledenes was huursoldate
2010-06-07 08:52
Jerusalem. – Israel se premier het Sondag beweer die Turkse aktiviste wat verlede week met Israeliese vlootkommando’s slaags geraak het, was voorbereid vir die konfrontasie.
Hulle het hulself glo eers georganiseer en toegerus voordat hulle afsonderlik aan boord gekom het.
Dié opmerkings van Benjamin Netanyahu is die jongste in ’n Israeliese veldtog om sy aanval verlede Maandag op ’n flottielje na die Gasastrook, waarin nege aktiviste dood is, te regverdig. Die operasie het felle internasionale kritiek uitgelok en Israel se betrekkinge met Turkye ernstig geskaad. Dit het ook gelei tot hernude druk om die drie jaar oue sluiting van die Gasastrook op te hef.
Netanyahu het aan sy kabinet gesê “dosyne rampokkers” van ’n “ekstremistiese terroriste-organisasie” het hulle vir die vlootkommando’s voorberei.
“Volgens die inligting wat ons tans het, het hierdie groep apart aan boord gegaan in ’n ander stad. Hulle het afsonderlik georganiseer en onder ander prosedures aan boord gekom,” het hy gesê. “Hierdie vyandige groep wou duidelik ’n gewelddadige konfrontasie met ons soldate ontketen.”
Netanyahu wou nie die bron van sy inligting verskaf nie. Israeliese militêre beamptes het egter beweer daar is sterk bewyse dat die Israeliese soldate deur huursoldate aangeval is.
Videos wat deur die weermag vrygestel is, wys ’n groep mans wat verskeie vlootkommando’s aanval terwyl hulle vanuit ’n helikopter aan boord gaan. In die video word die soldate met kolwe en ander voorwerpe getakel. Die weermag het ook foto’s van messe, slingervelle en metaalstawe gewys wat van die skare gekonfiskeer is. Ander videos wat van verslaggewers en die sekuriteitskameras aan boord van die skip gekonfiskeer is, toon ’n groep jong mans met kolwe en ander wapens voor die aankoms van die soldate.
Die geveg het op die Mavi Marmara, onder die Turkse vlag, plaasgevind en die oorledenes sluit agt Turke en ’n Turks-Amerikaanse man in.
In Turkye het die Turkse Islamitiese liefdadigheidsgroep IHH se hoof, mnr Bulent Yildirim, Netanyahu se “ongegronde woorde” veroordeel. Hy het gesê al die passasiers het in die Turkse hawe Antalya aan boord gegaan.
– Sapa-AP/sdv
- Volg Nuus24 op Twitter.
- Die Burger