Iran stem in om kernprogram te bespreek
2013-02-05 15:24
Theran – Iran sal samesprekings oor sy omstrede kernprogram op 26 Februarie in Kazakstan bywoon, het die land se kernonderhandelaar, Saeed Jalili, Dinsdag in ‘n verklaring gesê.
Die besluit is geneem tydens ‘n telefoniese gesprek tussen Jalili en Catherine Ashton, die Europese Unie se buitelandse beleidshoof, het die Irna-nuusagentskap berig.
Ashton verteenwoordig die sogenaamde P5+1-groep wat bestaan uit die VSA, Rusland, China, Brittanje, Frankryk en Duitsland.
Die verklaring het nie gesê in watter stad die samesprekings gehou sal word nie.
Die Verenigde Nasies (VN) het verlede jaar streng sanksies teen Iran ingestel weens sy kernprogram.
Iran hou egter vol dat dié program slegs vir vreedsame doeleindes bedryf word.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Sapa - AFP