Iran hang 10 ondanks pleidooi
2012-10-22 12:44
Tehran – Tien dwelmsmokkelaars is Maandag in 'n tronk in die Iranese hoofstad Tehran gehang ten spyte van die menseregte-organisasie Amnestie Internasionaal se herhaalde oproepe om sulke teregstellings te staak.
Die mans wat na die galg gestuur is, is daarvan skuldig bevind dat hulle meer as 'n ton opium en 'n ton metamfetamien (tik) gesmokkel het, volgens die webtuiste van die aanklaer se kantoor in Tehran.
Amnestie Internasionaal het reeds verskeie kere op Iran 'n beroep gedoen om nie dwelmsmokkelaars te hang nie en voer aan dat die straf buitensporig is.
'n Driekwart van alle teregstellings in Iran is smokkelaars wat in die land se streng dwelmwette vasgevang word.
Amnestie Internasionaal het op 9 Oktober berig dat daar vanjaar reeds 344 mense in Tehran gehang is.
Iran, waar moord, verkragting, gewapende roof, dwelmhandel en egbreuk strafbaar is met die dood, is een van die lande met die hoogste jaarlikse teregstellingsrekords, saam met China, Saoedi-Arabië en Amerika.
Sowat twee miljoen mense uit ‘n bevolking van 75 miljoen is dwelmverslaafdes, waarvan 400 000 heroïen-gebruikers is.
Volgens die gesondheidsministerie is 3 656 dwelmverwante sterftes in 2011 aangemeld.
Amnestie Internasionaal sê die dwelmwette in Iran “waarborg nie die reg tot ‘n regverdige verhoor nie,” veral omdat dit die beskuldigdes die moontlikheid om teen hul vonnisse te appelleer, weier.
Volg Nuus24 op Twitter.
- Sapa - AFP