Iran: Vier gehang oor dwelmhandel
2010-07-20 11:49
Tehran – Iran het drie mans in ‘n tronk in Kerman in die suide van die land gehang en een in die openbaar in die westelike stad Ahvaz nadat hulle skuldig bevind is aan dwelmhandel, het koerante Dinsdag berig.
Die publikasie Shargh het die drie mans wat Maandag in Kerman gehang is as Abbas Y., Ruhollah B., en Mohammad Naim Sh. geïdentifiseer.
‘n Vierde man, wat slegs as A. Ah. geïdentifiseer is, is Maandag in Ahvaz in die Khuzestan-provinsie gehang nadat hy in besit van ‘n halwe kilogram heroïne betrap is, het die koerant Kayhan berig.
Daar is ook berig die publieke teregstellings in Khuzestan het “’n groot effek op die afname in misdaadsyfers.”
Die mees onlangse gevalle bring die totale getal teregstellings in Iran die jaar tot by 92, volgens ‘n telling deur AFP mediaberigte.
Minstens 270 mense is verlede jaar gehang.
Volg Nuus24 op Twitter
- Sapa - AFP