Irak-massagraf bevat 800 lyke
2011-04-13 23:00
Bagdad - Die Irakkese owerhede het ‘n massagraf gevind met die lyke van meer as 800 mense, insluitende vroue en kinders, wat tydens Saddam Hussein se bewind tereggestel is, het die minister van menseregte Woensdag gesê.
Die graf is ongeveer vier maande gelede in die Akkaz-plein deur ‘n inwoner van die gebied ontdek, het Mohammed al-Sudani in ‘n verklaring gesê. Die slagoffers is tussen 1980 en 1989 doodgemaak. Al die oorskotte is sedert die ontdekking uitgegrawe.
“Daar was skietwonde aan die kop... daar was mans, vroue en kinders,” het Sudani gesê.
“Deur die oorblyfsels van klere en ander dinge het ons afgelei dat hulle uit verskillende sektore van die Irakkese samelewing afkomstig is. Sommige van die slote het vroue en kinders bevat, in ander was daar soldate in militêre uniforms of sweetpakke.
“Die werk is klaar. Die 812 lyke is na die lykshuis geneem om die prosedures te voltooi,” het Sudani bygevoeg.
“Hierdie massagraf verteenwoordig een van die gruwelikste misdade van die vorige bewind, en ‘n groot skending van menseregte.”
Tydens Saddam se oorlog tussen 1980 en 1988 met Iran is weglopers tereggestel.
Die hoeveelheid mense wat weens gruweldade deur Saddam se bewind vermis word, word op enigiets tussen 300 000 en 1,3 miljoen geskat.
Menseregtegroepe glo daar is honderde massagrafte in dié land.
- Volg Nuus24 op Twitter
- Sapa - AFP