Irak kort 1.5 miljoen huise
2009-07-27 15:23
Bagdad - Irak het ‘n behuisingstekort van sowat 1.5 miljoen huise en die situasie sal in komende jare vererger soos meer en meer mense na stede toe migreer.
Volgens die Verenigde Nasies (VN) se habitat-program (UN-Habitat), benodig Irak ook ‘n verdere 4 000 laerskole, terwyl 15 000 van die lande se bestaande skole ook aandag nodig het.
Volgens minister Ali Baban is Irak se behuisingstekort, verkrummelde infrastruktuur en tekort aan basiese dienste die resultaat van jare se oorlog en ‘n gebrek aan nodige beleggings.
Baban, tesame met Irak se senior- adjunkminister van konstruksie en behuising, Istrabraq al-Shouk, en ander amptenare het UN-Habitat se bekendstelling van hulle behuisingsprojek, The Iraq Country Programme, bygewoon.
"Volhoubare stadsontwikkeling is ‘n groot uitdaging vir Irak omdat meeste stadsrade nie die nodige dienste, huise en werke kan verskaf nie”, het al-Shouk gesê.
UN-Habitat sal oor die volgende drie jaar hulp aan die Irakese regering verleen, maar sê skenkende lande is meesal onder die indruk dat Irak sy eie stadsontwikkeling-programme moet finansier.
-Sapa