Irak betoog in 'dag van woede'
2011-02-25 20:01
Bagdad – Duisende mense het Vrydag Irak se strate ingevaar om teen korrupsie en ‘n tekort aan basiese dienste te betoog.
Irak se “dag van woede” word deur die onluste regoor die Arabiese wêreld geïnspireer.
Betogers het regdeur Irak geprotesteer – van die noordelike stad van Kirkuk tot die suidelike olie-middelpunt van Basra.
Verskeie lande in die Arabiese wêreld betoog om basiese dienste te verbeter en heersers wat lank aan bewind is, uit te dryf.
Irakse betogers is egter meer gefokus om ‘n greep op noodsaaklike behoeftes te kry en om ‘n einde aan korrupsie te bring.
“Ons is hier om die situasie in die land te verbeter. Die onderwyssisteem is swak. Die gesondheidsisteem is ook swak. Dienste gaan ook agteruit,” het Lina Ali (27), wat deel van ‘n betogende jeuggroep op Facebook is, gesê.
“Daar is geen drinkbare water of elektrisiteit nie. Werkloosheid neem toe...” het sy gesê.
Ali meen dat die stygende werkloosheidsyfer jeugdiges sal aanmoedig om aan terreur-aktiwiteite deel te neem.
Dié betoging is hoofsaak deur die sosiale netwerk Facebook georganiseer.
AFP het intussen berig dat vyf betogers Vrydag in Mosul, in die noorde van Irak, deur sekuriteitsmagte doodgeskiet is.
Altesaam tien mense is beseer toe dié magte op betogers geskiet het.
Volg Nuus24 op Twitter.
- Reuters