Inwoners op hoede vir leeus, wolwe op straat
2011-10-19 09:07
Zanesville – Tientalle diere het uit ‘n eksotiese plaas ontsnap en die eienaar is later op die plaas dood aangetref, het die polisie gesê.
Volgens die polisie het talle diere uit die Muskingum-dieretuin in Zanesville in die Amerikaanse deelstaat Ohio ontsnap.
Diere soos wolwe, leeus, tiere, kameelperde, kamele en bere word by dié dieretuin aangehou. Die polisie wou nie kommentaar lewer oor die tipe diere wat ontsnap het nie.
Daar word berig dat die polisie reeds sommige van die diere geskiet het. Die polisie sê bere en wolwe is onder die 25 diere wat doodgeskiet is.
Volgens polisiebeamptes is talle diere langs een van die hoofweë opgemerk.
Polisiebeamptes het inwoners gemaan om versigtig te wees en binnenshuis te bly.
WBNS-TV berig Terry Thompson, eienaar van die plaas, se lyk is Dinsdagaand buite sy huis op die plaaswerf gevind. Geen verdere inligting is bekendgemaak nie.
Volg Nuus24 op Twitter
- Sapa - AP