Internasionale tydskrif kritiseer ANC skerp
2012-01-14 09:53
Kaapstad – Die leidende internasionale nuustydskrif Time se nuutste uitgawe bevat ’n skerp kritiese artikel oor die ANC se regeringsrekord.
In die artikel, wat geen onderhoude met ANC-leiers bevat nie, word beklemtoon hoe ongelykhede in inkomstevlakke toegeneem het sedert die ANC 17 jaar gelede aan die bewind gekom het en word beweer die ANC bly slegs aan die bewind danksy die party se verlede.
Die artikel beweer slegs wit mense woon in Bloemfontein se rykmansbuurte, maar geen buurte se name word genoem nie.
Een van die fokuspunte van die artikel is wat die tydskrif noem “die verlies van die ANC se morele voordeel”.
“Afrika wemel van bevrydingsbewegings wat, nadat hulle gewen het, die mense vergeet in wie se naam hulle die bevrydingstryd geveg het,” lui die artikel, wat meld dat daardie era besig is om te eindig. Dan vervolg die skrywer: “Is Suid-Afrika, die vasteland se ekonomiese en politieke spilpunt, ’n wegwyser na die helder toekoms, of ’n venster op die ongelukkige verlede?”
Die artikel, wat vyf bladsye vul, haal ’n Bloemfonteinse straatveër, Tumelo Lekhooe, aan oor armoede in townships: “Daar is geen goeie paaie, parke, goeie skole of werk hier nie. Die ANC gebruik konneksies vir regeringstenders en dan bestee hulle die opbrengs aan hulself.”
Hy sê ook: “Ek weet nie hoekom ons nog vir hulle stem nie. Dis ons oumas en oupas. Hulle sê ons is net hier danksy die ANC.”
Ter afsluiting word aangedui hoe die ANC se steun in onlangse verkiesings afgeneem en DA-steun toegeneem het, met verwysing na die vervanging in die Arabiese Lente-opstande van partye wat langdurig geregeer het.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Volksblad