Internasionale kinderporno-kartel oopgevlek
2010-12-15 13:02
Los Angeles – Amptenare in Amerika het Dinsdag gesê dat hulle ‘n internasionale aanlyn-kinderpornografie-kartel opgebreek het en 20 mense is in vyf lande in hegtenis geneem.
Die internet forum is deur sowat 36 lede gebruik wat handel gedryf het met duisende “foto’s en video’s van kinderpornografie waarin seuns in seksueel-eksplisiete foto’s uitgebeeld word.” Sommige van die beeldmateriaal is deur die lede self gemaak.
Sestien van die verdagtes was in die VSA, terwyl die ander van Frankryk, Duitsland, België en Nieu-Seeland afkomstig is, het Amerikaanse regsamptenare en die FBI gesê.
Vyf het reeds skuldig gepleit in die VSA op aanklagte van die maak van kinderpornografie, sameswering om kinderpornografie te vervoer en deelname aan ‘n kinderpornografie-inisiatief.
“Die ‘Lost Boy’-saak verteenwoordig ‘n globale sub-kultuur wat bestaan vir die doel om handel te dryf met kinderpornografie en ander metodes om kinders te eksploiteer,” het Steven Martinez, assistent-FBI-direkteur, gesê.
Die vyf wat skuld erken het in die VSA is geïdentifiseer as David Michael Fagerness, 44; Andrew Neil Scott, 30; Anthony Jasso, 46; Justin Lee, 33, en Woodrow Tracy, 65.
Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA