Indonesiërs ontruim toe vulkaan uitbars
2010-08-29 10:52
'n Vulkaan op die Indonesiese eiland Sumatra het vir die eerste keer in 400 jaar uitgebars.
Die vulkaan het swart rook en roet tot 1 500 meter hoog in die lug in geblaas en duisende inwoners het die gebied ontruim.
Berg Sinabung in die Karo distrik van Noord-Sumatra provinsie het net ná middernag uitgebars. Lawa en ander volkaniese materiaal het uit sy krater geskiet.
Die regering het die vulkaan se gevaarstatus na die hoogste vlak opgeskuif, enkele minute voor die uitbasting van die 2 451 meter hoë berg.
Die plaaslike owerhede het van vragmotors, ambulanse en busse gebruik gemaak om mense wat naby die vulkaan bly te ontruim.
Geen sterftes is tot dusver aangemeld nie.
- SAPA