Indonesië waarsku oor vulkaan
2011-07-11 16:51
Jakarta – Indonesiese owerhede het waarskuwings van 'n vulkaanuitbarsting op die Sulawesi-eiland na die hoogste gevaarvlak opgeskuif en inwoners aangemoedig om die gevaarsone rondom die vulkaan te ontruim.
Volgens die hoof van die sentrum vir die studie van vulkane en rampvoorkoming het 'n vinnige toename in die aktiwiteit in Berg Lokon hulle genoop om die besluit te neem.
"Ons het aanbeveel dat die plaaslike owerhede inwoners binne 'n omtrek van 3 km van die vulkaan ontruim," het hy gesê.
Meer as 30 000 mense woon in die omgewing van die vulkaan, het die plaaslike regering gesê.
Die Tribunnews-webblad het berig die hoof van die provinsiale rampbestuuragentskap, Hoyke Makarawung, het gesê die regering is besig om voor te berei vir die ontruiming.
"Kom ons bid daar is nie 'n uitbarsting nie," het hy gesê.
'n Buitelandse toeris is in 1991 dood toe dié vulkaan uitgebars het.
Nog 'n vulkaan op dieselfde eiland, Berg Soputan, het op 3 Julie uitgebars en 'n aswolk sowat vyf duisend meter in die lug in gestuur.
Niemand is in dié voorval dood nie.
Indonesië is geleë in die sogenaamde Stille Oseaan se ring van vuur, 'n gebied bekend vir gereeld aardbewings en vulkaniese uitbarstings.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Sapa-DPA