Indonesië skei jong oortreders van tieners
2009-12-16 17:35
Djakarta, Indonesië – Indonesië gaan nie langer kinders jonger as agt jaar oud saam met tieners in tronke, of volwassenes in polisieselle aanhou nie, het ‘n beampte Woensdag gesê.
Die polisie het Dinsdag ‘n ooreenkoms saam met vyf ander regeringsdepartemente geteken, om oortreders tussen die ouderdomme van 8 en 12 uit kindergevangenisse te hou, het Arist Merdeka Sirait, sekretaris-generaal van die Nasionale Kommissie vir Kinderregte gesê.
Polisiebeamptes gaan ook nie meer dié oortreders saam met volwassenes in oorvol polisieselle, vir kort periods aanhou nie, het Sirait gesê.
Kindergevangenisse is ontwerp vir jeugdiges tussen die ouderdomme van 12 en 18, maar jonger kinders word ook daar aangehou terwyl hulle wag om verhoor te word.
Die nuwe ooreenkoms onderneem om kinders onder 12 jarige ouderdom, in dieselfde sentrums aan te hou, as kinders wat reeds skuldig bevind is van dieselfde ouderdomsgroep.
“Ons moet ‘n omgewing skep waar kinders steeds veilig voel, al het hulle die wet oortree. In die meeste gevalle het kinders wat in tronke toegesluit was, erger geword as gevolg van die tronk omgewing waarin hulle was. Dit is nie goed vir die kinders nie,” het hy gesê.
Volgens hom is daar tans 4 726 kinders onder die ouderdom van 18 in aanhouding, in ‘n land met ‘n bevolking van 235 miljoen.
- Sapa-AP