Indiese ministers met porno betrap
2012-02-08 15:55
Bangalore – Drie staatsministers in die suide van Indië, insluitende een met ‘n portefeulje vir die ontwikkeling van vroue en kinders, het Woensdag bedank nadat hulle daarvan beskuldig is dat hulle na pornografie in die plaaslike vergadering gekyk het.
Die ministers van die regerende Bharatiya Janata Party (BJP) is Dinsdag deur kameras opgeneem waar hulle grafiese beeldmateriaal op hul selfone gekyk het terwyl ander wetgewers oor die wetgewing gedebatteer het.
“Ons het bedank om vernedering vir ons party te verhoed en om nie die opposisie die geleentheid te gee om vandag (Woensdag) die verrigtinge in die vergadering te ontwrig nie,” het Laxman Savadi, die minister vir samewerking, aan verslaggewers gesê.
“Ons het ‘n uittreksel vir bespreking gekyk van ‘n voorval by die rave-partytjies wat op St. Mary-eiland gehou word. Dit was nie ‘n pornografiese video nie,” het hy verduidelik.
Karnataka se minister vir die ontwikkeling van vroue en kinders, C. C. Patil en die minister van hawes en visserye, Krishna Palemar, het ook bedank.
In die televisie-beeldmateriaal kan die ministers gesien word hoe hulle na ‘n vrou kyk wat dans, uittrek en dan met seksuele dade besig raak. Hulle het hul selfone tussen mekaar rondgestuur.
“Dit is skaamtelose gedrag. Die drie ministers het hul bedankings ingedien. Ons sal ‘n ondersoekkomitee saamstel om die voorval te ondersoek,” het ‘n woordvoerder vir die BJP, Nirmala Sitharaman, in Nieu-Delhi gesê.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Sapa - AFP