Indiese joernaliste vas oor afpersing
2012-11-28 12:54
Nieu-Delhi – Twee Indiese joernaliste is Woensdag in hegtenis geneem ná hulle glo probeer het om 'n onderneming af te pers wat deur 'n parlementslid besit word.
Naveen Jindal, ‘n parlementslid, het die redakteur van die nuuswebwerf Zee News, Sudhir Chaudhary, en die sakebestuurder, Sameer Ahluwalia, daarvan beskuldig dat hulle ‘n advertensiekontrak ter waarde van $18 miljoen (sowat R159 miljoen) by sy maatskappy wou wen deur hom af te pers.
Jindal sê Chaudhary en Ahluwalia het die kontrak geëis, en gesê hulle sal in ruil daarvoor sorg dat berigte wat sy maatskappy aan 'n groot bedrogspul koppel, nie gepubliseer word nie.
Zee News se hoof het die bewerings ontken, en gesê Jindal het probeer om die joernaliste om te koop.
“Ons veroordeel die onwettige inhegtenisnemings ten sterkste en eis dat hulle dadelik vrygelaat word,” het Alok Aggarwal, Zee News se uitvoerende hoof, gesê.
Chaudhary en Ahluwalia kan tot drie jaar tronkstraf opgelê word as hulle skuldig bevind word.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Sapa-DPA