Indië: Vroue kry messe om verkragters te stuit
2013-01-24 09:25
Moembaai – ‘n Verregse politieke party deel duisende messe aan vroue uit in ‘n westelike Indiese staat sodat hulle hulself kan verdedig.
Dit volg ná ‘n noodlottige bendeverkragting verlede maand wat die land geruk het.
Shiv Sena, ‘n party met ‘n reputasie van intimidasie en onrus, het die wapens Woensdag by ‘n funksie in Moembaai op die verjaardag van die groep se ontslape stigter, Bal Thackeray, wat in November dood is, aan vroue begin uitdeel.
“Die manier waarop jy groente sny, sny so die hand van die persoon wat aan jou raak,” het Ajay Chowdhary, ‘n plaaslike beampte van die party, aan ondersteuners gesê.
Hy het bygevoeg dat vroue die sewe sentimeter lange messe in hul handsakke moet dra.
Die party beplan om 21 000 van hierdie wapens in die Maharashtra-staat, hul hoof-basis, te versprei. Moembaai is die hoofstad van die staat.
Die wrede bendeverkragting van ‘n 23-jarige student op ‘n bus in die hoofstad Nieu-Delhi in Desember het die land woedend gelaat en het gelei tot betogings oor die tekort aan sekuriteit vir vroue.
Die student is later in ‘n hospitaal in Singapoer dood.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Sapa - AFP