Indië: Vermeende verkragters binnekort verhoor
2013-01-14 12:48
Nieu-Delhi – Die saak teen die verdagtes wat na bewering ‘n Indiese student op 'n bewegende bus in Nieu-Delhi verkrag het, sal vandeesweek na ‘n ander hof verwys word sodat dit dadelik kan voorkom, het prokureurs wat met die saak verbind word, gesê.
Regter Namrita Aggarwal bestudeer nog hofdokumente voordat die saak verwys word, het die prokureur, Manohar Lal Sharma, gesê.
Sharma en ander prokureurs het afskrifte van die aanklagte in Hindi versoek, aangesien die polisie die dokumente in Engels voorsien het. Hul kliënte kon nie die Engels verstaan nie.
“Hierdie formaliteite kan in die volgende paar dae voltooi word. Ons verwag dat die saak later in die week na die ander hof verwys sal word,” het Sharma gesê.
Regter Aggarwal het voorlopige verhore agter geslote deure gehou ná 'n chaos in die openbare galery wat haar vroeër genoop het om mense uit die hof te laat verwyder.
Die verkragting en moord van die 23-jarige fisioterapie-student in Nieu-Delhi in Desember het gelei tot wydverspreide woede en betogings.
Vyf mans is aangekla van ontvoering, verkragting en moord. ‘n Sesde verdagte sal in ‘n hof vir jeugdiges verskyn as sy bewering dat hy 17 jaar oud is, bevestig word.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA