Indië: Jaipur se laaste maharadja sterf
2011-04-18 15:45
Nieu-Delhi – Die laaste maharadja van Jaipur, ‘n antieke stad in die weste van Indië, is in die ouderdom van 79 oorlede, het berigte Maandag gesê.
Volgens nuusberigte sal daar twee dae van rou in Bhawani Singh se voormalige koninkryk gehou word.
Familielede het aan die koerant Asian Age gesê Singh se organe het ingegee nadat hy op 29 Maart naby Nieu-Delhi gehospitaliseer is.
Hy het ‘n brigadiersrang in die weermag gehad en word as ‘n oorlogsheld beskou.
Singh, wat in Jaipur veras sal word, is in 1970 as die 40ste maharadja gekroon ná die dood van sy pa, Man Singh.
‘n Jaar nadat hy as die maharadja gekroon is, het Indië alle koninklike titels afgeskaf en hul voorregte verwyder.
Jaipur was een van honderde koninkryke in Indië totdat die land se onafhanklikheid van Brittanje in 1947 ingestel is.
Volg Nuus24 op Twitter.
- Sapa - AFP