Indië: DNS-toetse verbind verdagtes met verkragting
2013-01-04 11:29
Nieu-Delhi – Aanklaers sê DNS-toetse het bevestig dat die verdagtes wat na bewering betrokke was by die verkragting van 'n 23-jarige vrou op 'n bewegende bus in Nieu-Delhi, wel vir die daad verantwoordelik was.
Rajiv Mohan, ‘n staatsaanklaer, het Donderdagaand gesê DNS-toetse het die verdagtes se betrokkenheid by die misdaad bevestig.
Die vyf verdagtes is Donderdag formeel aangekla van moord, verkragting en ontvoering.
Die vrou, 'n fisioterapie-student, is in Singapoer dood, waar sy in 'n hospitaal opgeneem is vir behandeling ná sy ernstige beserings opgedoen het toe sy op 16 Desember uit die bewegende bus gegooi is.
Die mans kan almal die doodstraf opgelê word as hulle skuldig bevind word, het Sushilkumar Shinde, Indië se minister van binnelandse sake, Donderdag gesê.
Dis steeds nie duidelik of 'n sesde verdagte, wat na bewering minderjarig is, op soortgelyke aanklagte tereg sal staan nie.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Sapa-DPA