Indië: Aanvallers aangekla ná verkragting
2012-12-29 13:42
Nieu-Delhi – Die Indiese polisie het die ses mans wat 'n student op 'n bus in Nieu-Delhi verkrag en aangerand het van moord aangekla nadat sy in 'n Singapoerse hospitaal gesterf het.
Rajan Bhagat, polisiewoordvoerder in Nieu-Delhi, het gesê die ses mans kan die doodstraf opgelê word indien hulle skuldig bevind word.
Dr. Kevin Loh, uitvoerende hoof van Mount Elizabeth-hospitaal waar die vrou sedert Donderdag behandel is, het gesê haar familie en beamptes van die Indiese ambassade het langs haar hospitaalbed gewaak.
Loh het gesê die vrou was in 'n kritieke toestand sedert sy Donderdag vanaf Indië na Singapoer gevlieg is.
"Ten spyte van pogings deur 'n span van agt spesialiste om haar stabiel te hou, het haar toestand steeds die afgelope paar dae versleg. Verskeie van haar organe het ingegee en sy het ook 'n breinbesering en beserings aan haar liggaam opgedoen."
Die vrou en 'n manlike vriend, wat nog nie geïdentifiseer is nie, het op 'n bus gery nadat hulle op 16 Desember gaan fliek het.
Hulle is deur ses mans aangeval wat beurte geneem het om die vrou te verkrag. Hulle het ook die paartjie aangerand en hulle van die bus gegooi.
Die lyk van die vrou sal later Saterdag na Indië teruggevlieg word, het Indië se ambassadeur gesê.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Sapa - AP