Inbreker val vier verdiepings
2009-09-01 15:04
Mainz, Duitsland – ‘n Inbreker wat ‘n val van die vierde verdieping van ‘n woonstelblok oorleef het, het opgeëindig met kopbeserings en ‘n gebreekte enkel, het polisie Dinsdag gesê.
Die 36-jarige man het Maandag aan die buitekant van die gebou opgeklim om by ‘n oop venster op die vierde vloer in te kom.
In die proses het die man gegly en geval.
“Jy kan amper sê hy het soos ‘n kat geland,” het ‘n woordvoerder vir die polisie in Mainz in Duitsland gesê.
Nadat hy die grond getref het, het die man opgestaan en mank weggestap.
Hy kon nie baie ver kom met sy beserings nie.
Getuies het die polisie gekontak en hulle kon hom vastrek.
Hulle het ook drie vermeende medepligtiges wat vir die man gewag het aangekeer.
- Sapa-dpa