Inbreker knip uiltjie in vreemde huis
2009-12-25 03:24
Kandern, Duitsland – Kersfeesstres of moontlik skuiling teen die ysige koue? ‘n Inwoner van ‘n klein Duitse dorpie het Donderdagoggend gevind dat iemand by sy huis ingebreek het en in een van sy beddens aan die slaap geraak het.
Volgens polisie het die man ‘n leer gebruik om by die huis in Kandern in te klim.
Hy het sy skoene en sokkies uitgetrek, slaapklere aangetrek en in die warm bed aan die slaap geraak.
Die eienaar van die huis het wakker geword van die lawaai wat die man gemaak het toe hy gereed gemaak het om te gaan slaap en het die polisie gekontak.
Die inbreker moes die res van die aand in ‘n polisiesel deurbring. Die motief vir die inbraak was nie bekend nie.
- Sapa - dpa