Ikea onttrek nóg vleisprodukte
2013-02-28 16:07
Stockholm – Die meubelreus Ikea het Woensdag bekendgemaak dat hy worsies wat by restaurante in sy afsetpunte beskikbaar is, ook sal onttrek.
Dié worsies word gelewer deur dieselfde maatskappy wat frikkadelle aan Ikea verskaf het waarin perdevleis gevind is.
Pole het intussen vir die eerste keer erken dat hy een van die bronne is van perdevleis wat in geprosesseerde vleisprodukte beland het wat as beesvleis verkoop is. Dit volg nadat die land bevestig het dat hy tekens van perde-DNS in kos van drie vleisverskaffers gevind het.
Ikea het gesê hy sal die worsies uit sy winkels in Frankryk, Brittanje, Spanje, Ierland en Portugal onttrek. Ander winkels kry hul worsies van ander verskaffers, het Ylva Magnusson, die maatskappy se woordvoerder, gesê.
Geen perdevleis is in die wors, wat van gemaalde vark- en beesvleis gemaak is, gevind nie, maar dit is nietemin verwyder aangesien dit van dieselfde verskaffer kom wat die frikkadelle voorsien, het Magnusson gesê.
Die verskaffer, Gunnar Dafgard AB, het nie oproepe vir kommentaar geantwoord nie.
Die besluit om die produkte te onttrek kom twee dae nadat voedselinspekteurs van die Tsjeggiese Republiek tekens van perdevleis in Ikea se frikkadelle gevind het. Dié produk is in 21 Europese lande van die rak verwyder, sowel as in Hongkong, Thailand en die Dominikaanse Republiek.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA