IMF-hoof ondergaan toetse
2011-05-16 15:22
Kaapstad – Dominique Strauss-Kahn, besturende direkteur van die Internasionale Monetêre Fonds (IMF), sal na verwagting Maandag in ‘n hof verskyn nadat in hegtenis geneem is weens die beweerde seksuele aanranding van ’n skoonmaker.
Strauss-Kahn, wat deur polisie in New York aangekeer is, sou Sondagaand voor ‘n regter verskyn.
Sky News berig die verhoor is uitgestel sodat DNS-toetse en verdere ondersoek gedoen kan word.
Daar word beweer dié voormalige Franse minister van finansies het ’n 32-jarige skoonmaker by ’n hotel seksueel aangerand.
Paul Browne, ’n polisiewoordvoerder, het aan BBC-nuus gesê drie klagte staar Strauss-Kahn in die gesig, waaronder beweerde seksuele aanranding en poging tot verkragting.
Hy is getroud en ’n gesiene politieke leier in die Sosialistiese Party en was ’n moontlike kandidaat vir president.
Browne het gesê die klagte is ingedien deur die vrou wat by die Sofitel-hotel in Manhattan naby Times Square werk.
Die vrou is by ’n plaaslike hospitaal behandel vir ligte beserings. Strauss-Kahn was glo in 2008 ook betrokke by ’n soortgelyke voorval waar hy ’n verhouding met ’n kollega gehad het.
Volg Nuus24 op Twitter.