IMF-hoof kry nie borgtog in verkragsaak
2011-05-17 07:24
New York – Borgtog is Maandag geweier aan die hoof van die Internasionale Monetêre Fonds (IMF), Dominique Strauss-Kahn, op aanklagte van onder meer verkragting.
Aanklaers hier het gesê hulle ondersoek die moontlikheid dat Strauss-Kahn hom een keer tevore aan soortgelyke gedrag skuldig gemaak het.
Sy regspan, wat misluk het in ’n poging om hom op borgtog van $1 miljoen (R7 miljoen) vrygelaat te kry, het die aanklagte ontken.
Strauss-Kahn het Maandag sy eerste hofverskyning gemaak op aanklag dat hy probeer het om ’n 32-jarige skoonmaker in ’n hotel in Manhattan te verkrag.
’n Polisiewoordvoerder het gesê die klaer het Strauss-Kahn op ’n uitkenningsparade met vyf ander mans uitgewys.
Staatsaanklaers het gevra hy moet in aanhouding bly weens kommer dat hy na Frankryk kan vlug indien hy borgtog sou kry.
Die saak is tot Vrydag uitgestel.
“Ons kliënt het vrywilliglik ingestem tot ’n wetenskaplike en forensiese ondersoek,” het William Taylor, sy prokureur, gesê.
In Parys het ’n prokureur Maandag gesê ’n Franse skrywer oorweeg regstappe teen Strauss-Kahn oor ’n beweerde voorval van ’n seksuele aard in 2002. – Reuters
- Die Burger