IMF-hoof betrek by sekskartel
2011-10-17 07:05
Parys. – Dominique Strauss-Kahn, voormalige hoof van die Internasionale Monetêre Fonds (IMF), het Sondag teruggekap ná berigte wat hom by ’n onwettige prostitusiekartel betrek.
Die 62-jarige Sosialistiese politikus het aan AFP gesê hy is bereid om met ’n geregtelike ondersoek na die saak saam te werk om sy naam so gou moontlik in ere te herstel.
Die ondersoek handel oor ’n beweerde prostitusienetwerk in die noordelike stad Lille. Ondersoekers glo hulle het ’n netwerk oopgevlek wat vroue oor die grens van België bring om seks te hê met gegoede kliënte in hotelle, insluitend die vierster- Carlton-hotel.
In reaksie op mediaberigte daaroor het Strauss-Kahn gesê hy wil “so gou moontlik” ondervra word om “die insinuasies en afleidings wat gevaarlik en weer eens kwaadwillig is, te beëindig”.
Vyf mans – insluitend die direkteur en die hoof van openbare verhoudinge van die Carlton – is in Frankryk gearresteer op aanklagte van koppelary, terwyl die Belgiese polisie hul eie ondersoek doen.
Die weekblad Journal du Dimanche het ingeligtes na aan die ondersoek aangehaal wat beweer Strauss-Kahn kan ondervra word. Luidens die berig vermoed ondersoekers vroue is vir hom na die VSA gevlieg.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Sapa - AFP