Hong Kong skrik vir varkgriep-teenmiddels
2010-01-25 11:53
Hong Kong - Hong Kong se gesondheidsamptenare sit blykbaar met ‘n groot klomp ongebruikte varkgriep-teenmiddels aangesien pasiënte die veiligheid daarvan bevraagteken.
Thomas Tsang, in beheer van die regering se sentrum vir gesondheidsbeskerming, sê die publiek se reaksie op die omstrede inentingsprogram, was “glad nie indrukwekkend nie”.
Dit is nog nie bekend wat die regering met die oorskot teenmiddels sal maak nie.
Sowat 3 miljoen dosisse inentings is beskikbaar gestel.
Hong Kong het die griepentstof van Sanofi Pasteur bestel en verniet aangebied aan hoë-risiko pasiënte, soos gesondheidsamptenare, kinders en bejaardes.
Die reaksie was uit die staanspoor egter onentoesiasties en het verder verminder toe twee pasiënte siekteaanvalle as gevolg van die inentings ervaar het.
Twee vrouens wat klaarblyklik ‘n week na inenting miskrame gehad het, het wantroue in varkgriep-teenmiddels verhoog.
York Chow, Hong Kong se sekretaris van voedsel en gesondheid, het egter mense aangemoedig om hulself steeds teen varkgriep in te ent.
Hy het die publiek verseker dat die miskrame nie verwant was aan die teenmiddels nie.
- Sapa