Honderde huise vernietig deur brand in vlugtelingkamp
2012-02-23 18:57
Bangkok – Honderde huise is vernietig nadat ‘n reuse-brand Donderdag deur ‘n Thaise grenskamp, wat die tuiste van duisende vlugtelinge van Mianmar is, gewoed het, het amptenare gesê.
Die brand het omstreeks 05:00 GMT uitgebreek en het vinnig deur die Umpiem Mai-vlugtelingkamp versprei, het Poth Ruwaranan, hoof van die Phop Phra-streek van die westelike Tak-provinsie, gesê.
Hy het aan AFP gesê daar was geen sterftes nie, maar Sally Thompson van die Thai Burma Border Consortium (TBBC), wat kos en skuiling aan tien grenskampe voorsien, sê sy het gehoor van kinders wat brandwonde opgedoen het.
“Pasiënte in die kliniek is ontruim en bly in die kos-pakhuis,” het sy gesê.
Volgens Thompson is meer as 1 000 huise, drie moskees en twee kleuterskole vernietig – “sowat ‘n derde van die kamp – terwyl dit volgens Poth 300 huise was.
“Ons het verneem dat die brand begin het terwyl hulle gekook het. Aangesien die huise van bamboes en blare gemaak is, het dit te vinnig versprei, veral met die warm en droë weer en die sterk wind,” het die streekshoof gesê.
Inwoners is nie toegelaat om die kamp te verlaat nie, so diegene wat hul huise verloor het, sal by familie of vriende moet tuisgaan, het hy bygevoeg.
Die kampbestuurder, Khetthai Wongsuwan, het later gesê die brand is geblus en dat kos aan diegene wat geraak is uitgedeel is.
“Ons sal materiale soos hout en toerusting aan hulle voorsien om nuwe huise op dieselfde plek te bou,” het hy gesê.
Meer as 17 000 verplaaste mense van Mianmar bly sedert Desember in die Umpiem Mai-kamp, volgens syfers van die TBBC.
– Volg Nuus24 op Twitter
- AFP