Honderde Taliban-lede ontsnap
2011-04-26 07:51
Kandahar – Byna 500 Taliban-gevangenes het Sondagnag hier in ’n gewaagde operasie deur ’n tonnel in die suide van Afganistan ontsnap in wat deur die presidentskantoor as ’n “veiligheidsramp” beskryf is.
Die Taliban het gesê hy is die baasbrein agter die ontsnappings en het ’n massiewe ondergrondse tonnel in sy hartland, Kandahar, gebruik. Hy beweer al die ontsnapte gevangenes is lede van die Taliban.
Die ontsnapping kan die vordering ondermyn wat buitelandse magte onlangs met veiligheid in die land gemaak het, aangesien die ontsnapte insypelaars nou weer amok kan maak.
“’n Tonnel van honderde meter lank is van die suide van die tronk na die gevangenes gegrawe en 476 politieke gevangenes het ontsnap,” het die direkteur van die tronk, genl. Ghoelam Dastageer Majar, gesê.
Hy het gesê die voortvlugtiges verteenwoordig ’n derde van die gevangenes in die Sarposa-tronk.
Pres. Hamid Karzai se woordvoerder, Waheed Omer, het die voorval op ’n nuuskonferensie in Kaboel as ’n “ramp” beskryf.
“Dit is ’n terugslag – iets wat nooit moes gebeur het nie.”
’n Taliban-woordvoerder, Joesoef Ahmadi, het gesê 106 van die voortvlugtiges was Taliban-bevelvoerders.
Die Taliban het in ’n verklaring gesê hy het vyf maande gelede begin om die 360 meter lange tonnel te grawe en dat die tonnel onder verskeie regeringskontrolepunte verbyloop.
Sommige gevangenes is intussen weer aangekeer.
- Die Burger