Hond glo oorsaak van plaag
2009-08-06 07:24
Beijing – ‘n Hond is glo die oorsaak van ‘n longontstekingsplaag in die noordweste van China wat reeds die lewens van drie mense geëis en duisende onder kwarantyn geplaas het.
Ziketan, in die Qinghai-provinsie is sedert Saterdag toe vir alle besoekers in ‘n poging om verdere verpreiding van dié siekte te keer.
‘n Pasient is in ‘n kritieke toestand en sewe ander is met die siekte gediagnoseer. Dié mense is almal familie van ‘n 32-jarige veewagter wat weens dié siekte dood is, berig die nuusagentskap Xinhua.
Aanvanklike toetse het getoon dat die veewagter se dooie hond moontlik die oorsprong van die siekte was.
Prof. Wang Hu, direkteur van die Qinghai-siektebeheer buro, het gesê dit is waarskynlik dat die hond vrek is nadat hy ‘n marmot wat met dié siekte besmet geëet en die veewagter aangesteek is toe hy die hond begrawe het.
Hy is drie dae later dood.
“Die eerste slagoffer het die hond sonder enige beskerming begrawe. Ná hy aangesteek is, was sy familie en bure in nabye kontak met hom en dit is hoekom hulle ook die siekte het,” het Hu gesê.
Mense kan binne ‘n dag ná hulle met die siekte besmet is, sterf.
Sapa-AFP