Hond gevind, maar SA seiljagvaarder steeds soek
2010-03-29 11:42
Wellington – Die lot van die Suid-Afrikaanse seiljagvaarder wat naby Nieu-Seeland vermis geraak het, is nog net aan sy hond bekend, wat lewendig op die seiljag gevind is.
Paul Janse van Rensburg (40) se hond Juanita is Maandag uitgehonger maar lewendig op die seiljag gevind nadat twee vissermanne aan boord gegaan het.
Daar was egter geen teken van Janse van Rensburg nie.
Hy is laas gesien toe hy op 12 Maart vanjaar van Tauranga onderweg na Gisborne geseil het.
Die vaarder het daarna vermis geraak.
Janse van Rensburg se seiljag is Saterdag per toeval vanuit die lug naby die Chatham-eilande, sowat 700 km suidoos van Wellington, raakgesien.
‘n Vissersboot het die area waar sy seiljag raakgesien is net voor sononder bereik maar onstuimige waters het dit te gevaarlik gemaak om aan boord te gaan.
Floyd Prenderville, een van die vissermanne wat aan boord gegaan het, het aan TV3 gesê dat Juanita geskok was, maar beter gevoel het nadat hy haar ‘n drukkie gegee het.
Volgens Prenderville was die seiljag in 'n goeie toestand, behalwe vir die seile wat geskeur was.
Volgens hom is dit duidelik dat Janse van Rensburg ‘n ervare seiljagvaarder was.
Nieu-Seelandse reddingsbeamptes glo dat die seiljag deur ‘n storm bedreig is net nadat Janse van Rensburg Tauranga verlaat het.
Dis moontlik dat die seiljag die afgelope twee weke soos ‘n spookskip op sy eie krag gevaar het.
‘n Vissersboot het die beskadigde seiljag en Juanita teruggeneem na die Chatham-eilande.
Volgens Nieu-Seeland se dierebeskermsvereniging maak Juanita se 16 dae lange stryd haar die hond wat nog die langste iets oorleef het.
- Sapa-dpa