Hof nietig wet wat Berlusconi beskerm
2009-10-07 19:35
Rome - 'n Top-hof in Italië het 'n wet waarvolgens premier Silvio Berlusconi nie vervolg kan word nie nietig verklaar.
Die immuniteitswet het bepaal dat die land se top-politici nie vervolg mag word solank as wat hulle in die ampte van premier, president of een van twee parlementêre speakers dien nie.
Berlusconi staan in Milan tereg op aanklagte van korrupsie. Sy hofsaak sal na verwagting nou voortgaan.
'n Woordvoerder vir die Italiaanse leier, Paolo Bonaiuti, het Woensdag gesê Berlusconi sal nie bedank nie.
Die omstrede Italiaanse premier is ook tans in ‘n seksskandaal gewikkel.
In die afgelope paar maande het daar bewerings opgeduik dat Berlusconi sosiaal met jonger dames verkeer, insluitend ‘n prostituut wat na bewering ‘n nag saam met hom spandeer het.
Berlusconi het egter ontken dat hy al vir seks betaal het, maar hy het ook gesê hy is nie ‘n “engel” nie.
- Sapa-AP