Hoë naskok-risiko wag op Haïti
2010-01-23 16:56
Washington – Die verpletterde Haïti wat minder as twee weke gelede deur ’n verwoestende aardbewing getref is, kan verder steier weens die hoë risiko van opeenvolgende naskokke.
Dié naskokke kan moontlik vir langer as dertig dae na die aardbewing, wat 7.0 op die Richterskaal gemeet het, voorkom, het die Amerikaanse Geologiese Opname (AGO) Vrydag gesê.
Die hoofstad, Port-au-Prince is Vrydag deur twee hewige naskokke geskud, slegs enkele dae nadat die aardbewing, wat sowat 75 000 mense se lewens geëis het, getref het.
"Die naskokke sal vir nog baie maande en moontlik baie jare die land teister,” het die AGO op hulle webwerf gewaarsku.
Die naskokke sal verminder, maar ‘n verwoestende aardbewing sal altyd die lewens van die inwoners van die land bedreig,” het hulle luidens ‘n verslag gesê.
Daar was slegs ‘n skrale moontlik van 3% dat ‘n aardbewing van 7.0 op die Richeterskaal binne die volgende 30 dae weer mag plaasvind, maar daar is egter ‘n 6% kans op ‘n aardbewing van 6.0 op die Richeterskaal en ‘n 90% kans op een wat 5.0 meet.
Sowat 50 naskokke het Haïti sedert 12 Januarie geskud.
Die aardbewing het plaasgevind te midde van ’n hoogs gekompliseerde wirwar van tektoniese verskuiwings (breuke) naby die interseksie van die Karibiese en Noord-Amerikaanse korsplate.
- AFP