Hillary Clinton weer gereed om te werk
2013-01-04 09:01
Washington – Hillary Rodham Clinton, minister van buitelandse sake in die VSA, is optimisties nadat sy uit ‘n hospitaal in New York ontslaan is.
“Sy klink fantasties, opgewek en gereed om voort te gaan,” het Victoria Nuland, ‘n woordvoerder vir die land se departement van buitelandse sake, aan verslaggewers gesê.
Die woordvoerder het bygevoeg dat die minister “daarna uitsien om volgende week na haar kantoor terug te keer.”
Die voormalige presidentsvrou is met bloedverdunners behandel om ‘n klont in ‘n aar wat deur die ruimte tussen die brein en die skedel agter die regteroor loop, op te los.
Clinton se woordvoerder, Philippe Reines, het vroeër ook gesê die minister is gretig om terug te keer werk toe.
Clinton (65) het verlede maand maaggriep gekry toe sy van Europa na Amerika teruggekeer het. Dit het veroorsaak dat sy erg gedehidreer en flou geword het, wat tot harsingskudding gelei het.
Reines het destyds in ‘n verklaring gesê dokters het later ontdek dat ‘n bloedklont ná die harsingskudding gevorm het.
Volg Nuus24 op Twitter
- Sapa - AFP