Hillary: Bill het nie jammer gesê nie
2009-08-05 16:24
Nairobi – Die Amerikaanse minister van buitelandse sake, Hillary Clinton, sê haar man, Bill Clinton, het nie Noord-Korea om verskoning gevra vir die optrede van Amerikaanse joernaliste vóór hul vrylating gister nie.
Die voormalige Amerikaanse president het tydens sy besoek die bevryding van twee Amerikaanse joernaliste wat in Noord-Korea in aanhouding was, bewerkstellig.
Bill Clinton se besoek aan Noord-Korea het vandag geëindig.
Noord-Korea se nuusagentskap, KCNA, het gesê Bill Clinton het Pjongjang om verskoning gevra vir die joernaliste se optrede.
Hillary Clinton het egter in ‘n perskonferensie tydens haar besoek aan Nairobi beaam dat haar man nie vir die totalitaristiese regering jammer gesê het nie.
VSA-president Barack Obama het Woensdag Bill Clinton se rol in die bevryding van die joernaliste as “merkwaardig” bestempel.
- Sapa - AFP