Indonesië: Herrie oor uitlatings oor verkragting
2013-01-16 12:26
Jakarta – ‘n Senior Indonesiese regter het 'n woedende reaksie ontlok toe hy gesê het verkragters moet die doodstraf vryspring omdat slagoffers die daad geniet.
Verskeie groepe het Woensdag gevra dat hy afgedank word.
Daming Sunusi, ‘n regter in die hooggeregshof, het die uitlatings gemaak terwyl die parlement die kwessie van die doodstraf vir verkragters bespreek het.
“Die een wat verkrag word en die verkragter geniet dit albei, so ons sal moet dink oor die doodstraf,” het Sunusi gesê.
Hy het intussen om verskoning gevra vir sy kommentaar.
“Ek het iets gesê wat geen man ooit moet sê nie, veral nie ‘n regter nie,” het Sunusi op nasionale televisie gesê.
Wetgewers en menseregtegroepe het skerp op die kommentaar reageer, en gevra dat Sunusi afgedank word.
“Die opmerkings was... onvanpas en onbetaamlik vir 'n regter,” het die wetgewer Sarifuddin Suding aan AFP gesê.
Arist Merdeka Sirait, voorsitter van die Kommissie vir Kinderbeskerming, het gesê Sunusi se kommentaar versterk net die indruk dat seksuele geweld 'n norm in die land is.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Sapa - AFP