Staking bring dalk Heathrow tot stilstand
2011-11-25 15:26
Londen – ‘n Staking in die openbare sektor volgende Woensdag in Brittanje dreig om alle dienste by Heathrow, Europa se besigste lughawe, tot stilstand te bring.
BAA, die lughawe se operateur, het gesê die kans is goed dat daar 12 uur lange vertragings vir aankomende passasiers kan wees omdat die staking op 30 November doeanebeamptes gaan verhoed om soos normaal diens te lewer.
‘n Verwagte twee miljoen werkers gaan deelneem aan die betoging teen veranderinge in die openbare sektor se pensioenplanne. Dit kan die grootste betoging deur ‘n unie wees sedert 1979.
Die rye by Heathrow se immigrasiebeamptes gaan glo so lank wees dat passasiers op vliegtuie gehou sal moet word, het BAA gewaarsku.
“Dit sal ‘n opeenhoping by die lughawe veroorsaak met die gevolg dat daar geen stilhouplek vir vliegtuie gaan wees nie. Daar sal ook baie kansellasies van vertrekkende vliegtuie en wegwysings van aankomende vliegtuie van buite Brittanje wees,” het Normand Boivin, hoofbeampte vir Heathrow, gewaarsku.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Sapa - AP