Hartroerende foto vertel Haïti-verhaal
2010-01-22 11:36
Port-au-Prince - Die sewejarige seuntjie en sy 10-jarige suster wat ná sowat sewe dae onder die puin van hulle huis in Port-au-Prince gered is, lewe nou in armoede.
Kiki Joachin se redding het wêreldwyd mediadekking ontvang danksy ‘n hartroerende foto (sien onder) waar hy met sy arms in die lug en ‘n glimlag op sy gesig nooddienswerkers bedank nadat hulle hom gered het.
Maar ten spyte van Kiki se kitsroem leef hy en sy suster, Sabina, steeds in armoede.
Sky News het dié seuntjie gevind by sy tydelike woning naby Haïti se hoofstad en hom uitgevra oor sy ervaring.
“Ek was so bly toe ek gehoor het hulle kom. My broer was saam met ons vasgevang onder die huis. Hy het later gesterf. Hy het my gevra vir water voor sy dood, maar ek kon hom nie help nie,” het hy gesê.
Volgens Kiki het hy in trane uitgebars toe hy weer met sy ouers herenig is.
Die foto van Kiki word beskryf as die een beeld wat die ware effek van die aardbewing in Haïti vasvang en sal voortaan sekerlik een van die mees ikoniese foto’s van hierdie tragedie wees.
Lees meer hier.

Matthew McDermott /Polaris /eyevine