Harry gaan Taliban dalk jag
2012-02-10 08:01
Den Haag – Prins Harry kan Taliban-vegters dalk binnekort van agter die stuur van ’n geskutshelikopter in Afganistan jag.
Dit is die gevolg van die feit dat hy pas as vlieënier van ’n Apache-geskutshelikopter gekwalifiseer het.
Kapt. Harry Wales, soos hy in die Britse leër – die Apaches val nie onder die lugmag nie, maar die leër – bekend staan, het luidens berigte in die Britse koerante die beste in sy klas gevaar.
Hy en die ander 20 vlieëniers wat geslaag het, het nou die status van “beperkte gevegsparaatheid”. Dit beteken dat hy ook kwalifiseer om in die nabye toekoms na Afganistan gestuur te word.
Met prins William wat as lugmagvlieënier in die Falkland-eilande ontplooi is om ’n soek-en-reddingshelikopter te stuur, sal albei prinse dan aktiewe militêre diens doen.
Harry het reeds as infanterie-offisier patrollies in Afganistan gedoen, maar toe die nuus daaroor uitlek, het die Britse weermag hom teruggeroep uit vrees dat hy kan seerkry, sneuwel of gevang word.
Harry was buitengewoon teleurgesteld en het herhaaldelik daarop aangedring dat hy weer ontplooi word.
As hy inderdaad weer uitgestuur word, sal hy dieselfde risiko as ander Apache-vlieëniers loop, wat egter aansienlik minder is as die manne wat patrollie op die grond loop.
Dié keer het die Britse weermag besluit om Harry se moontlike ontplooiing nie geheim te hou nie.
Sy taak sal wees om spesmagte in gevegte by te staan. Die Apache is ’n gedugte wapenstelsel met swaar pantser, bomme en vuurpyle, en ’n 30 mm-snelvuurkanon.
Luidens berigte is prins Charles nie baie tevrede daarmee dat Harry weer na Afganistan staan nie. Tog het hy besluit om nie in sy seun se pad te staan nie.
Volg Nuus24 op Twitter
- Die Burger