Hang verkragters, vra Indiese slagoffer se pa
2013-01-21 10:23
Nieu-Delhi – Die pa van ‘n student wat dood is nadat sy deur ‘n groep mans op ‘n bus in Nieu-Delhi verkrag is, het gevra dat geregtigheid vinnig geskied en dat die aanvallers gehang word.
Vyf mans wat van haar moord aangekla is, se verhoor sal Maandag begin.
‘n Prokureur het Indië se hoogste hof probeer oortuig dat die verhoor buite die hoofstad moet plaasvind, maar die pa van die 23-jarige slagoffer sê haar familie sal eers rus kry as die spesiale hof wat vir die saak byeengeroep is, sy vonnis uitspreek.
“Ons het die rituele van rou vir my dogter afgehandel in die dorp, maar ons tydperk van rou sal nie eindig totdat die hof sy vonnis uitspreek nie. My dogter se siel sal eers in vrede rus nadat die hof die mans gestraf het,” het die pa aan AFP gesê.
“Dit is die werk van die hof en die regters om te verseker dat die finale bevel om al die beskuldigdes te straf, vinnig gegee word en dat al die mans gehang word.
“Geen man het die reg om te lewe nadat hy so ‘n gruwelike misdaad gepleeg het nie.”
Verlede maand se aanval op die mediese student, wie se naam om regsredes nie genoem kan word nie, het massabetogings oor Indië tot gevolg gehad – veral in Nieu-Delhi, wat bekendstaan as die land se “verkragting-hoofstad” weens die hoë voorkoms van sulke aanvalle.
– Volg Nuus24 op Twitter
- AFP