Haïti se nagmerrie hou nie op
2010-01-22 09:29
Erika Gibson
Port-au-Prince. – Die tweede noodleniging-span van Suid-Afrika het Donderdagaand laat in die hoofstad van Haïti aangekom ná ’n reis van nagenoeg 25 uur per vliegtuig en nóg agt uur per pad.
Die span van die Moslem-noodlenigingsorganisasie Gift of the Givers sal ná enkele ure se slaap by hul kollegas inval wat reeds die naweek hier aangekom het om soek-en-reddingswerk te doen.
Die situasie in Port-au-Prince het Woensdag versleg ná ’n kragtige tweede aardbewing wat sowat 6,1 op die Richterskaal geregistreer het.
Volgens die Catholic Relief Services (CRS) is minstens 12 mense in dié aardbewing dood.
Dit het ’n geringer uitwerking gehad omdat dit sowat 9,6 km diep onder die aardoppervlak gebeur het. Dit het ook nie die hoofstad soveel geraak nie omdat dit sowat 65 km buite die stad die ergste impak gehad het.
Nog ’n naskok van 4,8 op die Richterskaal het die land Donderdag getref.
Die jongste dodetal sedert die verwoestende eerste aardbewing van 7 op die Richterskaal op 12 Januarie was teen gister 72 000, maar dit wissel van instelling tot instelling.
Verskeie noodlenigingsorganisasies gebruik die roete van Santo Domingo in die Dominikaanse Republiek om hul noodvragte padlangs na Haïti te bring. Die nou kronkelpaadjie van die grens na Port-au-Prince is verstop met swaar vragmotors onder begeleiding van VN-vredesoldate.
Voorvalle van plundery en veiligheidsbedreigings het aansienlik afgeneem, het ’n woordvoerder van die CRS gesê.
Die CRS het tans een groot kosverspreidingspunt op die hoofstad se gholfbaan van waar hulle sowat 50 000 mense van kos voorsien. Hulle word bygestaan deur kleiner kerklike organisasies om die kos na die meer afgeleë gebiede te neem.
Pogings deur die CRS om nog verspreidingspunte te vestig, was tot dusver nog nie suksesvol nie omdat skares die verspreiders bestorm het.
Die Amerikaanse weermag het soldate in die strate ontplooi om kerngebiede en kosverspreidingspunte te beveilig. Op pad na die hoofstad is daar haas geen teken van die verwoesting van die aardbewing nie. Mense gaan hul gang en informele winkeltjies doen fluks sake.
Selfs aan die buitewyke van die hoofstad is min skade sigbaar behalwe die algehele kragonderbreking. Mense loop met flitse rond en enkele stalletjies het olielampies of kerse in die donker.
Volgens die CRS is nog een van die probleme waarmee die stad nou worstel om met die verpletterde infrastruktuur al die noodwerkers te hanteer.
Sanitasie, water en telekommunikasie is grootliks afwesig, terwyl die meeste hotelle beskadig is. By van die hotelle “plak” die besoekers in die tuine, terwyl ander tentkampe in bewaakte gebiede soos by die lughawe opgeslaan het.
- Beeld