Haïti: Wonderwerk red bejaarde se lewe
2010-01-20 09:34
Port-au-Prince – ‘n Bejaarde vrou is Dinsdag, sowat ‘n week nadat ‘n verwoestende aardbewing Haïti getref het, lewend onder die puin van ‘n Rooms-Katolieke kerk gevind.
Nooddienswerkers het gehuil en mekaar omhels toe die vrou op ‘n handgemaakte draagbaar gelaai is en met ‘n vragmotor na 'n hospitaal vervoer is.
“Dit was ongelooflik om so iets te kon beleef. Niemand kon glo dat sy nog lewend was nie,” het Sarah Wilson van die Britse liefdadigheidsorganisasie Christian Aid gesê.
Anna Zizi is omstreeks 15:30 deur Mexikaanse brandweermanne gered. Sy was byna ‘n volle week onder die puin vasgevang.
Haar redding het weer hoop gegee aan honderde nooddienswerkers wat steeds deur die rommel grou op soek na mense wat die tragedie moontlik kon oorleef het.
Owerhede in Haïti kan reeds 75 000 sterfgevalle bevestig, maar waarsku dat hierdie syfer vinnig tot 200 000 kan styg.
Zizi (moontlik 69 of 70 jaar oud) se seun, Maxime Janvier, is kort ná haar redding deur CNN genader vir ‘n onderhoud.
“Ek het nooit moed opgegee nie. Ons het baie gebid hiervoor,” het hy gesê.
- AFP