Haïti: Hoop op oorlewendes skraal
2010-01-18 08:22
Port-au-Prince - ’n Hoteleienaar (62) is Sondag ontwater, maar ongedeerd uit die puin van haar hotel in Port-au-Prince in Haïti gevind.
“Sy is ’n tawwe tienie, onvernietigbaar,” het Nadine Cardoso se man, Reinhard Riedl, gesê.
Reddingswerkers het Sondag ook ’n sewejarige meisie, ’n man en ’n Amerikaanse vrou uit die puin van ’n gebou gered.
Die dodetal weens die aardbewing van 7 op die Richterskaal wat Haïti verlede Dinsdagmiddag getref het, word nou tussen 50 000 en 100 000 geskat. Dit kan uiteindelik tot 200 000 styg. ’n Geskatte 250 000 mense is beseer en 1,5 miljoen dakloos gelaat.
Jean-Max Bellerive, Haïti se premier, het gesê sy huis is vernietig en hy slaap in sy motor.
Die hoop begin nou taan dat lewendes nog gevind sal word. Met temperature van by die 30°C bedags terwyl vasgekeerdes nie water het om te drink nie, word dit feitlik onmoontlik dat hulle nié weens ontwatering sal sterf nie. Johanne Lerebours, ’n 43-jarige kleuterskoolonderwyseres, is een van duisende mense wat begin moed verloor dat hul geliefdes nog lewend gevind sal word. Haar broer, Alain, het in die Montana-hotel in Port-au-Prince gewerk.
“Ek kon sien die lyke daarbinne is opgeblaas. Ek kan nie verwerk dat dít dalk my laaste herinnering aan my broer sal wees nie.”
Sowat 43 internasionale reddingspanne met 1739 reddingswerkers en 161 honde het reeds 60% van gebiede wat die ergste deur die aardbewing getref is, deurgesoek. ’n Israelse reddingspan het gister nog probeer om ’n man te red wat al vier dae vasgekeer is. “Ons werk sentimeter vir sentimeter,” het Moshe Sadir gesê.
Een van die mees aangrypende sterfgevalle tot dusver was dié van ’n 11-jarige meisie, Anaika St. Louis, wat 48 uur lank vasgekeer was. Reddingswerkers kon haar nie bereik nie. Joernaliste het vir haar water en granola-stafies gegee terwyl sy hul hande vasgehou het wanneer sy bang was. Anaika het geskree dat sy nie wou sterf nie. Nadat omstanders haar eindelik wel kon bevry, het sy tog later gesterf omdat daar nie mediese hulp was nie.
Onbegaanbare paaie vol lyke en rommel, ’n gebrek aan vervoer, oorlaaide lughawens en brandstoftekorte bemoeilik reddingswerk. Mediese en koshulp bereik net sommiges.
Plunderaars stroop supermarkte wat ineengestort het terwyl hulle onderling met messe baklei.
Landlyne werk net soms en selfone glad nie. Tafels is in Port-au-Prince geplaas waar mense vermistes kan aangee.
Leogane, sowat 19km wes van Port-au-Prince, is ook verwoes, met duisende mense wat dakloos gelaat is en byna elke gebou wat vernietig is.
Die probleem met lyke neem toe. Duisende opgeblase lyke is die naweek buite ’n hospitaal gegooi waar dit in die son begin ontbind het.
Hospitaaltuine is vol beddens met beseerdes wat aan drups gekoppel is wat van bome hang.
- Sapa-AFP-AP, CNN, BBC en Reuters