Haïti: Baba lewend in puin gevind
2010-01-20 23:13
Parys – Reddingswerkers het na bewering ‘n drie weke oue baba meisie uit die puin van ‘n huis in Haïti gered, het ‘n Franse radiostasie Woensdag berig.
Franse reddingswerkers het baba Elisabeth in ‘n holte tussen die puin gevind nadat ‘n huis in Jacmel tydens die aardbewing inmekaargetuimel het.
Hulle het sowat vyf ure lank gespook om haar te bereik. Volgens ‘n familielid is sy slegs 23 dae oud.
Sy het geen beserings opgedoen nie en is na ‘n naby geleë veldhospitaal geneem.
Nuus24 het vroeër berig dat ‘n bejaarde vrou sowat ‘n week na die verwoestende aardbewing, lewend onder die puin van ‘n Rooms-Katolieke kerk gevind is.
Naskok:
‘n Sterk naskok het Haïti Woensdag omstreeks 13:03 (SA-tyd) geruk en paniek in die strate van die hoofstad veroorsaak.
Volgens die Amerikaanse Geological Survey (USGS) het dié skudding sowat 6.0 op die Richterskaal gemeet en het dit ongeveer 56km noordwes van Port-au-Prince plaasgevind.
Die aardbewing het op ‘n diepte van 22km ontstaan.
- Sapa, AFP